Logo bar wessels

Skrifgedeelte: Josua 19:32-51

Fokusgedeelte: Josua 19:49-51

Ons getrouheid en gehoorsaamheid aan God is nie tevergeefs nie!

Die laaste verse van Josua 19 beskryf die afhandeling van die
verdeling van die beloofde land onder die 12 stamme van Israel. Met
gister se dagstukkie het ons gelees van die grondgebied wat aan die
stamme Simeon, Sebulon, Issaskar en Aser toegeken is. Die laaste
twee stamme wat grondgebied gekry het, is Naftali en Dan.
Naftali ontvang die bergagtige gebied Bo-Galilea, bekend vir sy
takbokke (“Naftali is ’n takbok wat vry rondloop”, Gen. 49:21). Dan was
’n klein stam wat grondgebied noordwes van Jerusalem ontvang. Dan is
op ’n stadium deur die Amoriete verdruk en ’n deel van die stam het
hom by Lesem of Lajis gaan vestig (“Dan is een van die stamme van
Israel, hy handhaaf die reg van sy volk”, Gen. 49:16).
Wat egter merkwaardig is, is dat Josua en sy familie se eiendom nie
ingedeel of gevoeg word by een van die stamme se grondgebied nie.
Net soos Kaleb (vgl. Jos. 14:6-15), ontvang Josua ’n stad van sy eie,
Timnat-Serag in die Efraimsberge (Josua was self die stam Efraim, vgl.
Num. 13:8). Vanweë Josua en Kaleb se gehoorsaamheid en getrouheid
aan die Here by die verkenning van Kanaän, het die Here ’n spesiale
verbond met hulle gesluit. Van al die Israeliete wat destyds in die
woestyn rondgetrek het, het slegs Josua en Kaleb oorgebly en ’n erfdeel
in die beloofde land ontvang. Dit was inderdaad ’n hele nuwe geslag
Israeliete wat oor die Jordaan die land Kanaän ingetrek het.
Josua (en Kaleb) is net weereens ’n bewys dat getrouheid en
gehoorsaamheid aan die Here nie tevergeefs is nie. Al was hulle
destyds onder die volk ver in die minderheid (vgl. Num. 13:26-33) oor
die inname van Kanaän, het hulle trou en gehoorsaamheid aan God by
verre swaarder geweeg.
Ons moet besef dat getrouheid en gehoorsaamheid aan God nie ’n
gewildheidskompetisie is nie – gewoonlik is ons ver in die minderheid en
heeltemal ongewild as ons nie saam met die res van die wêreld gaan
nie, maar aan ons Here getrou bly. Ons Here Jesus Christus was getrou
en gehoorsaam tot in die dood, al het Hy Godverlate aan die kruis
gehang. “Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef!” (Fil.
2:9).

Sing: Skrifberyming 14-1:1

Ds. W Jobse (Wilhan) (Jeffreysbaai)